Thursday, March 5, 2015

Koos le Roux writes about my Mum.

Goeie more,
My naam is Koos le Roux. Ek was nooit in die Weermag nie, maar in die Polisie te Rundu Veiligheidstak en dan later in Koevoet Kavango.
Ek het ongelukkig nooit jou ouers ontmoet nie, maar ek het Hendrik ontmoet  die oggend van die dag waarop hulle gesterf het. Ek het Jan Kaka ook geken.
Maar eers van Tant Pompies. Ek wou haar vreeslik graag ontmoet en net n soen en druk gee vir die ongevraagde hulp en aanmoediging wat gekom het op die tyd wanneer ek dit die nodigste gehad het. Daar was ongelukkig nooit n geleentheid om dit te doen nie. Vandag besef ek dat ek net eenvoudig tyd moes maak, maar.....
Dit was tydens die infiltrasie twee jaar voor jou Pa-hulle se tragedie. Daar was oral opvolge aan die gang en die radios was besig. Ek was saam met A/O van der Westhuizen en twee swart kolegas van die Veiligheidstak op Rundu besig om tien spore te volg noord van die Mangetti.. Ons het met n Land Cruiser en n Hilux bakkie gewerk, een agter elke stuurwiel en een met sy geweer agter op elke bak, n Boesman op die spoor. Duidelik was ons glad nie ingerig om kontak te maak nie en het dringend die hulp van  n vegspan van een of ander aard verlang.
Ons radio vermoens was beperk tot n TR 28 wat eers opgeslaan moes word en ingestel moes word voordat daar na ons kantoor geroep kon word. Koms was baie swak en ons was reeds vir die tweede dag op hierdie spore sonder dat ons koms kon bewerkstellig. Ek moet weer beklemtoon dat ons nie gereed was om met hulle kontak te maak nie, maar net die spoor gevolg het om n vegspan se werk makliker te maak.
Teen die middel van die tweede dag, terwyl ek weer pobeer het om met enige Polisie-roepsein kontak te maak, het hierdie engelstem op die lug gekom en gevra ek moet my identifiseer, sy ken nie die roepsein nie. Ek het met dankbaarheid gese wie ek is en wat my posisie was en dat ek hulp soek. Haar antwoord was: "Jaag hulle, Boetie, jag hulle, ek sal hulp by jou uitkry!" Sy het.   Daardie aand het Chris de Witt se Koevoetspan, Zulu Whiskey, by ons oornag en die volgende oggend vroeg was hulle aan die hardloop. Weens die baie opvolge wat aan die gang was, kon ons nie lugsteun in die vorm van "gunships" kry nie, maar het Tant Pompies wat uit haar eie na ons frekwensie oorgeskakel het, vir ons n vastevlerk met n wakker vlienier gekry. Met sy hulp het twee van die vyand vroegdag al gegroet. Tant Pompies was gou met gelukwense en weereens n "Jaag hulle boeties, jag hulle"
Ten tyde van jou Pa-hulle se dood het ek my eie Koevoetspan gehad. Ons was die eerste om met daardie groep vyand kontak te maak. Eers binne die Mangetti-plase en toe op n plaas wes van Tsinstabis. Ek onthou die plaas se naam was iets met Kalk..... Ons het geen verliese gehad nie en was dankbaar om met hulle te kon afreken.
As ek reg onthou het nie een van daardie infiltrasie-groep Angola weer lewendig gehaal nie.
Ek kan jou verseker dat jou Pa in al die manne, Weermag, Polisie en boere wat daardie tyd daar was, se herinneringe as n held voortleef. Dieselfde geld ook vir jou Ma, wat as gevolg van haar besondere toegewyde diens  met die radio-komunikasie aan baie meer manne as die "onbekende" Tannie Pompies bekend was.
Groete .
 
Koos le Roux.

1 comment:

Debra Sachse said...

Dit is so 'n pragtige hulde aan 'n besonderse vrou en familie. Ek self was destyds jong getroud en met twee bitter klein seuns ook op 'n grensplaas tydens hierdie bos oorlog.

Ek kan vir tannie Pompie nog in my gedagtes sien daar waar sy selfs in die kommando kantoor vas agter die radios gesit het en help waar sy kon.

Vandag sien ek haar in Riana en bly die herinneringe vars. Selfs die manier hoe sy op 'n stoel op so 'n gemaklike manier kan sit, laat my tannie Pompie in Riana raak sien.

Dan is dit so wonderlik as daar mense soos julle vorendag kom om nog onthou stories op te diep en haar nagedagte lewend te hou.

Debra Sachse