Friday, June 15, 2007

n Brief van Roland de Vries - Bevelvoerder van 61 Mech in '82

Beste Riana,

Baie dankie vir jou E-pos. Dit was 'n groot en lekker verrassing. Dit het beelde wat nog baie duidelik in my kop is weer na vore gebring: 'n Baie oulike klein dogtertjie; jou ma voor die radios in die kombuis op Koedoesvlei ; jou ma in die dam (rok en al); jou pa en sy span besig op 'n Ratel....

Ek kan begryp hoe jy oor jou pa voel. Die oorlog het nie een van ons onaangeraak gelaat nie. Hy was 'n wonderlike, entoesiastiese en lojale persoon. 'n Man wat leierskap en toewyding in die ware sin van die woord verstaan en uitgeleef het. Hy was 'n held by wie ek baie geleer het. Iemand wat die lewe vir my baie makliker gemaak het daar bo, iemand wat jy ten alle tye kon vertrou. Ek kan nog presies onthou waar ek gesit het en hoe ek gevoel het toe ek sy sitaat vir die Honores Crux geskryf het.

Jou ma was 'self n vrou wat vele lewens gered het deur op kritiese oomblikke in die geveg, diep in Angola, deur te gee, as sy agterkom ons sukkel met komms. Sy het ook altyd geweet presies waar almal is en het ons dikwels aanmekaar gehou met haar radios.

Stuur asseblief groete aan almal. Ons moet beslis kontak hou, veral met 61 Meg se reunie, die boek wat ons wil skryf en die assosiasie wat ons wil stig. Ek het vir Ariel gevra om met jou te praat oor die moontlikheid om Augustus by ons in Caledon aan te sluit vir die beplanning.

As 'n nagedagte, jammer dat ek nou eers jou e-pos antwoord maar was uitstedig met 'n projek. Ek sal beslis sommer nou na die web blad kyk.

Meg groete - vertrou ons sal mekaar spoedig weer sien.

Liefde

Roland

No comments: