In 2015 het Danie en ek gaan soek na die plek waar my pa gesterf het saam met die ander in ratel 12 Alpha. Ons was geneem na die verkeerde plek.. en ek het geweet dis die verkeerde plek die oomblik wat ek daar gekom het. Ons het daardie dag besluit om terug te gaan en weer te gaan soek.
Dis hoe hierdie begin het, daardie tyd al. Ek het dit probeer ignoreer maar dit wou my nie los nie. En sonder dat ek aandag gegee het daaraan het die gedagtes net bly terug kom en later het ek besef ek gaan maar moet begin werk maak hiervan..want dit gaan nie weg gaan nie. 2022 is dit veertig jaar sedert hulle gesterf het en ek het besluit dis hoog tyd dat plek gekry en gemerk word op n kaart, want tot op 6 Julie 2022 was daar nog geen definitiewe plek of koordinate nie. Nie eers die huidige petrol prys gaan my kan stop nie.
Ek begin my voelers uit steek na my familie maar niemand behalwe Danie van der Westhuizen stel belang nie. So dit sal dan ons twee wees wat die plek gaan soek waar Ratel 12A op 15 April 1982 uitgeskiet is aan die begin van ops Yahoo.
Ek begin met my voorbereiding
.. .daar moet 3 kruise gemaak word ( 1 vir Ratel 12 A se manne, 1 vir Jan Kaka se graf en 1 vir Koedoesvlei)... wat skryf ek daarop? Ek weet nie, maar die dag wat die skryf werk gedoen moet word, is die woorde daar.
Daars n groot groep veterans oppad na Angola om n veterane slagveld toer diep in Angola te gaan doen, maar daar is n klein groepie van hierdie manne wat besluit hulle gaan vroeg uit Whk ry om ons in Tsumeb te kry.
Ons, ek en Danie ontmoet mense wat ons nog nooit gesien het nie om te gaan soek na n plek 60km noord van Tsintsabis, noord van die Bravo kaplyn, in die bos, waar, weet ons nie rerig nie.
Hierdie manne het meestal nie my ouers ontmoet nie, of, sommiges was vlugtig op Koedoesvlei so ver terug as 1979. Tog wil hulle deel wees van hierdie dag om 40 jaar later uiteindelik n plek op n kaart te kan merk waar ratel 12A uitgeskiet is 15 April 1982.
Ons het dit gedoen. Ek was daar. Daar waar alles geindig het.
Dit was nie maklik nie, die wag n bietjie en haak en steek het goed floreer in hierdie shona, maar met hierdie great manne aan my sy het ons ons kruis opgesit. En my hart het oorgeloop van dankbaarheid.
VREDE!!!
Die klip.
Na ons klein seremonie begin ons terug veg deur die bosse om terug te draai. Ons almal is in verskillende grade van stukkend geskeur deur veral die wag n bietjie bosse. Die manne met kort broeke lyk besonder bloederig aan die bene. Tog kla niemand want ons weet wat ons vandag gedoen het sal nooit ongedaan gemaak kan word nie.
Oppad terug na die bakkies kom stap Leon de Bruin langs my en gee vir my n klip.. sommer net seker n kalk klip, maar die woorde daarmee saam maak hierdie klip van ontsaglike waarde. "Riana ek het hierdie klip DAAR opgetel en wil dit vir jou gee sodat jy iets het om te onthou"
En weereens se ek dankie aan
ons Vader vir die awesome mense wat hy oor my pad bring.
Daar is geen manier hoe ek die manne wat saam met ons gegaan het kan genoeg bedank nie...ek kan wel weer net hier se, DANKIE. Harry, Gerard, John, Brian, Leon en Danie.
No comments:
Post a Comment