Wednesday, July 13, 2022

Gerard van Rooyen se skrywe oor my Ma.

 Die dag toe Tannie Pompie ons gatte gered het

(Mei 1980)

Kort na ek op 61 Meg aangekom het einde April 1980, het ek een aand in die offisiers kroeg gehoor die manne praat van tannie “Poppie”. “Wie is dit?” vra ek. Sy is ‘n boerevrou op ‘n plaas naby Tsintsabis wat heeldag na Sektor 10 se militêre radionet luister sê iemand. Ek het eers jare daarna uitgevind haar naam was eintlik tannie “Pompie” (boek deur Deon Lamprecht: “Tannie Pompie se oorlog: In die Driehoek van die Dood”). In die boek op bl. xxx sê tannie Pompie dat sy menige kere troepe wat in die moeilikheid was moes uithelp. Ek glo hierdie storie was een van Pompie daardie gevalle!

Agtergrond

Tydens Operasie Skeptic (“Smokeshell”) was ek as (onervare) pantser troep bevelvoerder betrokke by die 61 Veggroep. Tydens die intensiewe in-oefeninge voor die operasie was ek aanvanklik ingedeel by Vegspan 2 onder Kapt. Louis Harmse. Dit was ook die vegspan wat later ernstige verliese gely het tydens die operasie waarin 13-man oorlede is. Feitlik elke dag het ons voorberei en ge-oefen vir die ops. (Wat op daardie stadium nog streng geheim gehou is van ons.) Aanmars tegnieke, pad beweging, skietoefeninge en inskiet van wapens, aanvalle, kontak-en-aanvals drille, hervulling, kamoeflering, bundu-bashing, oop en geslote laers, - enige iets wat ons moontlik so teëkom tydens Skeptic.

Maar by die basis was ek en my troep nog steeds onder bevel van Kapt. Jakes Jacobs (1 SDB E Eskadron Bev)

Ken jy vir Jakes Jacobs?

Jakes Jacobs het nie kak gevat van kabouters nie. Hy was ’n legende in die pantserkorps. Groot, sterk, wit-rooi hare met ‘n yl rooi snor wat soos takkies voor sy lip uitgesteek het. Hy het ’n hele paar games vir Vrystaat flank gespeel. En dit is in die dae toe rugby nog rugby was! Toe ’n flank nog kon trap, slaan en hoog tackle! 

Die troepe het ’n heilige vrees vir Jakes gehad. Onder-offisiere het gebewe en luitenante was vreesbevange as hy naby is. Niemand het met hom teë-gepraat nie. Niemand sou dit gewaag het om met hom te verskil nie. En as jy dit dalk gewaag het, het hy jou blitsvinnig op jou plek gesit: “Ek is die bevelvoerder! Maak soos ek sê!” Dan skiet daai takkies op sy bo-lip vorentoe en sy oë skiet vlamme! En jy voel hoe jou Santa Maria klam word. Nodeloos om te sê, ek was maar bang vir hom. Eintlik kak-bang! 

Oefening in Wes-Owambo

So ongeveer 10 dae of wat voor Smokeshell, vertrek on op ’n groot oefening na Wes Owamboland.  Behalwe om dag-en-nag beweging te oefen, was dit ook ’n misleidings taktiek om SWAPO te laat glo die opbou van troepe by Omuthiya was vir ’n operasie in Owamboland. 

Vegspanne 1 tot 3 was op die oefening onder leiding van Maj. Paul Fouche. My troep (4 Eland 90’s) was afgedeel aan Vegspan 2 (1 SAI B. Kompanie onder Louis Harmse). Ek het heel voor gery - alle navigasie gedoen en pad gesoek. Ons is vroeg die oggend weg uit Omuthiya - reguit wes net noord van Etosha panne. Die Ratels was te swaar vir die sagte grond van die panne en daar is ure lank gesukkel om die klomp wat vasgeval het, uit te sleep. Toe verder wes, deur die nag tot die volgende oggend vroeg - omtrent 186 km reg wes van die 61 Meg basis. 

Om te help met die pad soek in die nag ry daar soms ’n ou van die bike-squad voor met sy splinter nuwe Suzuki 175! Dit is pikdonker en ons mag nie ligte aan hê nie. Hier 2 uur die nag val die ou in die los sand ’n paar meter voor my volgelaaide 6-ton pantserkar. Nie ek of die drywer sien dit nie en ons ry bo-oor die splinternuwe Suzuki. Ons trap hom dat hy so in 'n V-vorm in die sandpad lê. Gelukkig het die bike-squad ou gehoor die Noddy gaan nie stop nie, en duik toe in die bosse in - uit die pad uit. Vir die res van die trip was hy en sy V-vormige bike agter op die recovery voertuig.

Die R1 geweer sage begin

So by 7-uur die volgende oggend roep Paul Fouche halt by ’n watergat neffens ‘n paar PB hutte en bokkraal. Ek onthou nou nog die kopseer wat die nagsig apparaat my gegee het! Die manne klim uit die voertuie en rek bietjie bene. Maak koffie en eet gou ietsie uit die Ratpaks. En dit is ook toe dat Kpl. Gareth Rutherford sy R1 teen ’n kameeldoringboom staanmaak. Ja, daai Gareth Rutherford wat net twee weke later ’n Honoris Crux verwerf het op Smokeshell! En vir een of ander rede wat ek nie meer kan onthou nie, was hy onder my bevel op daardie trippie. Na ’n uur of wat vertrek ons terug 61 toe - 186 km van die slegste pad denkbaar. 

Na ongeveer ’n halfuur se ry, roep Rutherford my op die radio - “Lieutenant, I think I left my rifle under the tree! There at the “watergat”. Ek vra hom “Is jy seker? Is die ding nie daar iewers in die Ratel nie?” “I am not sure Lieutenant - maybe it is here under the balsakke somewhere...” Ek sê hy moet dit soek en my laat weet. Ek hoor niks weer van hom nie. Ongeveer 12h00 die middag is ons terug by die basis. Moeg, vaak en gatvol. Toe ek uitklim kom Rutherford na my toe aangeloop. Ek sien sommer op sy gesig hier is groot kak. “It’s not there. I looked everywhere. I’m sure I left it under the tree.”

Weer terug na Wes-Owambo

Ons is terug by die basis. Ek is terug onder Jakes Jacobs se bevel. Ek sidder as ek net dink daaraan dat ek aan hom moet rapporteer. Ek loop in by sy tent. “Kaptein, een van die support troepe van Kapt. Harmse wat aan my afgedeel was nou het sy geweer verloor op die trip....” Ek sien Jakes se normale ligte pienk gelaat verander in ’n bloedrooi een. Hy slaan met sy plat hand op die ‘Tables: Folding’ voor hom. Sy snor begin bewe en sy oë skiet vonke! “Van Rooyen, JY is verantwoordelik vir daardie troep, JY is verantwoordelik vir daardie wapen!” bulder hy. “Jy ry NOU terug en gaan soek daai wapen! Gaan trek vir jou ’n Buffel by die voertuigpark, kry vir jou ’n drywer, vat daai seksie en gaan SOEK DAAI WAPEN!”

En jy gaan trek vir jou ’n Buffel. En jy kry vir jou ’n drywer. En jy vat daai seksie en jy ry ONMIDDELIK die 186 km terug Wes-Owambo toe. Jy praat nie terug met Jakes Jacobs nie!

En in die proses maak jy die grootste klomp foute in ’n ry wat jy moontlik KAN maak:

Jy vat nie ’n spaar tyre saam vir die Buffel nie - want ’n Eland 90 het paploop tyres - jy worry mos nie oor ’n ‘spare’ nie...

Jy vat nie ’n spaar battery saam vir die A53 radio nie - want ’n Eland 90 het 3 radio’s in en dit werk vanaf die voetuig se batterye...

Jy vat nie ekstra ratpacks saam nie, want ons sal mos sommer gou-gou terug wees...

Jy vat nie ekstra water saam nie, want elkeen het mos ’n waterbottel by hom...

Jy vat nie ekstra diesel saam nie, want jy aanvaar mos die Buffel is vol en hy sal gemaklik die 372 km heg- en -steg kan kafdraf...

En jy vat nie slaapsakke of warm goed saam nie, want dit is lekker warm in die middel van die dag...

en les bes, ’n 1 SAI Infanterie skutter respekteer mos nou nie juis ’n 1 SDB Pantser offisier se bevele nie - veral as jy nog ’n one-pip DP is....

So gesê, so gemaak. By ongeveer 14h00 val die vreemde groepering weer in die pad terug na die vêrste punt van die roete. 186 km van slegte sandpad, modder panne, boomwortels, takke en stof. 1 Pantser 2de Lt. sonder ENIGE ondervinding van ’n Buffel, met ’n seksie gatvol meg infanterie manskappe en 1 onbekende Buffel drywer! 

“1 ZERO dit is Tango 35, Kom In...”  “1 ZERO dit is Tango 35 kom in...” 

Ons kom so uur voor sononder weer aan daar by die watergat. Daar is niemand. Geen PB, geen bokke en geen R1. Slegs ’n kronkelende fiets spoor wat tot by die boom loop en dan weer verder. Iemand het die R1 gevind en geneem. Gareth Rutherford loop verward rond. “I left it right here Lieutenant! This guy must have taken it.” Terselfde tyd sê die drywer vir my: “Luitenant ons het ’n pap wiel” Die Buffel leun vooroor so pap is daai voorste tyre. Ek gaan kyk. ’n Yslike stok steek by die tyre uit. “Waar is die spaarwiel?” vra ek terwyl ek eintlik al die antwoord weet. “Die Buffel het nie ’n spaarwiel nie Luitenant....” “Het ons iets om die tyre te probeer regmaak? Is daar nie ’n tjoep in die bin daar agter nie?” “Niks nie Luitenant!”. “Aag fok tog!” 

“Waar is daai radio? Bring hom hier asseblief” Iemand bring die radio. Ek het nog nooit met ’n draagbare A53 gewerk nie. Slegs die nice A55’s en B56’s wat in die pantserkarre ingebou is. “Is hy op 10 se frekwensie?”. “Yes luitenant” Ek roep 1ZERO - 61 se Ops kamer. Niemand antwoord nie. ’n Rukkie later hoor ek 10 roep iemand anders. Ek hoor hulle duidelik. Ek roep weer. Hulle antwoord nie. Ek sien die battery liggie is aan. “Is die battery gelaai?” vra ek. “I don’t know Luitenant. I think its flat..”. “I think there is a spare in the bag”. Ons sit die spaar battery in maar dit help boggerol. Ek roep ’n paar maal maar 10 kan ons nog steeds nie hoor nie. Net toe kom daar ’n vrouestem op die radio. “Daai laaste stasie, dis Tannie Poppie. Kan julle my hoor? Oor. Kan julle my hoor? Oor” Ek antwoord: “Laaste stasie dit is Tango 35, my seine oor?” “Ek kan jou hoor. Ek hoor jou. Wat is julle probleem?”

Tannie Pompie roer daai lot by 10

Ek verduidelik kortliks dat ons ’n pap wiel het en geen spaar nie. Ek sien ook dat dit begin donker raak. Dit begin koud word. Ons het ook geen kos nie. Die manne het al almal hulle water opgedrink. Die water in die watergat is vieslik vuil. Ons het geen manier om die water te suiwer nie. Die drywer sê “Luitenant ek dink nie daar is genoeg diesel in die Buffel om dit terug te maak kamp toe nie” 

Intussen het ons ‘n skuinsdraad ontdek in een van die radio sakkies. Ek laat die draad span tussen die kameeldoringboom se top en die Buffel. Toe kry ek nog ‘n brainwave. “Kyk of jy een van die Buffel se batterye kan uithaal”. Die Buffel het ‘n 24 V stelsel met 2 x 12 V batterye in serie. Die radio werk op 12 volt. Die drywer haal 2 drade agter by die ligte uit en strip die punte. Ons druk die drade op die radio se kontakpunte en op die battery. Ons sit die radio aan. Daai naald slaan oor in die groen. Volsterkte! Ek roep vir Tannie Pompie. Sy antwoord onmiddellik. ”Ja nou kan ek julle baie goed hoor!” 

“Ons het ook nie kos of water nie en die Buffel se diesel is amper op.” vertel ek haar. “En dan natuurlik is die voorste tyre op die Buffel in sy moer in”. “Hy kan nie reggemaak word nie”. “Waar is julle nou?” wil sy weet. Toe besef ek ek het ook nie ‘n koderings-kaart nie. Ek sal die ruitverwysings oop oor die lug moet stuur. Ek het darem ‘n kaart. Ek stuur vir haar dit ruitverwysing. Sy is ‘n rukkie stil en toe kom sy terug: “Wat doen julle daar?” Ek verduidelik. Sy sê ons moenie worry nie. Sy sal alles uitsort.

Net nadat ek gepraat het, roep 10 my. Hulle kan my nou duidelik hoor. Met die skuinsdraad en die volgelaaide Buffel battery kan hulle my seker in Pretoria ook hoor.  “T35 dis 10. Berig oor!”. Ek bly stil. Ek antwoord nie. As Jakes Jacobs uitvind ons kan hom hoor, is dit klaarpraat met my. Ek praat eerder met Tannie Pompie. 10 roep nog ‘n paar keer. Ek antwoord nie.

Tannie Pompie klim op die radio na 10: “Daai manne kan julle nie hoor nie. Werk deur my!” sê sy. Sy werk daai ops kamer manne se gal soos ek nog min gehoor het. “Daai manne van julle is in die kak! Julle moet ONMIDDELIK hulp uitstuur. Hulle het nie kos nie. Ook nie water nie. Julle moet ‘n paar kanne diesel ook stuur. En ‘n band vir die Buffel. Stuur sommer 2 want die een is heeltemal in sy moer in. En julle moet julle gatte roer! Wie is nou die adjudant daar? Sê vir hom ek wil met hom praat!!

Ek hoor alles. Ek hoor ook vir 10 en die respek in hulle stemme. “Ons gee alles deur tannie” Ons sal alles nou reël. Sy rapporteer terug. Ek het alles gehoor maar maak of ek niks weet nie.

‘n Bitter Koue nag in Wes-Ovamboland sonder warm goed

Dit is nou donker. Ons het niks om te eet of drink nie. Dit is koud. Ek hou ‘n order groep. “Ok manne dit is wat ons gaan doen. As SWAPO dalk ons boodskap onderskep het, is daar ‘n kans dat hulle ons kan kom aanvat vannag”. Per slot van rekening het ek ons presiese posisie oop oor die lug gestuur - vir enige iemand om te hoor. “Ons gaan na laaste lig ‘n TB stig sowat 100 m vanaf die Buffel in die donker. Ek is bang vir ‘n RPG aanval op die Buffel gedurende die nag. Ons gaan eers om die Buffel klaarstaan (lê) en dan later leopard crawl tot in ons nuwe TB posisie sodat die vyand nie kan sien ons het geskuif nie. Daar lê ons dan in rondom verdediging met 2 wagte elk op 2 uur wagbeurte”. 

Ek het darem ‘n grondseiltjie wat ek bo-oor my gooi om die ergste koue af te keer. Dit raak piskoud. Ek slaap bitter min. Die volgende oggend met eerste-lig klaarstaan ons weer - soos per die boek. Niks gebeur nie. Alles is stil. Toe die son opkom maak ons ‘n vuurtjie. Tannie Pompie check in: “Is julle almal nog ok?” “Ja baie dankie Tannie, ons is ok. Ons wag maar nou vir 61 se hulp voertuig om te kom”

Soektog na die R1

Die manne is nou sommer behoorlik die moer in. Almal is honger en dors, hulle het koud gekry en die R1 is nog steeds weg. “Lieutenant lets go and search for the rifle in those huts. It must be somewhere” Ons begin alle hutte deursoek. Daar is niemand in die hutte of eers naby nie. Hulle het al die vorige dag toe hulle ons hoor aankom gevlug. Want hulle het geweet ons kom daai wapen soek.  Van die troepe sien Ovambo messe en pyl en boë. Hulle druk dit in hulle webbing. Hulle dop die beddens om en skop emmers om. Dis toe dat ek begin besef ek sal beheer moet kry oor die manne anders gaan dinge verkeerd loop. Ek beveel almal om die messe en goed terug te sit waar hulle dit gekry het. “Why Lieutenant?” vra die een ou. Hy lyk glad nie lus om na my te luister nie. Eers toe ek dreig dat ek enigiemand wat iets vat sal aankla luister hulle. Ons vind niks. Vat niks. Breek niks. Die R1 is weg. Tot vandag toe. In die ou SAW dae was dit amper erger as hoogverraad. En Jakes Jacobs hou my verantwoordelik daarvoor... en hy wag vir my by die basis.

Die Uiteinde

Hier om-en-by 12h00 hoor ek die bekende dreuning van ‘n Ratel. Hy kom met ‘n spoed aan. Die stof staan agter hom. Die drywer sien ons en stop langs die Buffel. ‘n Stuk of agt ouens spring uit die Ratel. Hulle laai diesel, water en tyres af. En hulle haal drie groot bakke warm kos uit die Ratel uit. Hulle skep kos in en almal eet aan die heerlike kos wat hulle gebring het. Hulle help om gou die Buffel se pap band om te ruil. Help om die diesel in te gooi. Hulle het Tannie Pompie se opdragte ernstig opgeneem!

Toe alles klaar is, ry ons terug. Almal is nou baie meer gelukkig. Behalwe ek en miskien Gareth Rutherford. Ek sien al gesigte van dissiplinêre verhore, range wat afgevat word. Ek sien ‘n woedende Jakes Jacobs en moeilike tydjie wat voorlê. 

By ons aankoms loop ek reguit na Jakes se tent toe. Laat ek maar my pak gaan vat. Ek maak my reg vir ‘n behoorlike afranseling. Ek halt in die deur, salueer en loop in. Jakes spring op, loop om die ‘Tables: Folding’ en hou sy hand uit. Hy groet my hartlik met ‘n glimlag. “Het julle toe die wapen gekry?” Ek sê “Nee Kaptein”. Jakes sê “Ag moenie worry nie, ons sal ‘n verklaring insit - verloor in opleiding. As jy klaar gestort het, kom drink daar ‘n dop saam met ons in die offisiers kroeg!”

Ek loop verstom uit die tent. Wat het nou net gebeur? Lank gewonder wat die ommekeer in sy houding gebring het. Al hoe ek dit kan verklaar is dat hy dalk ook baie verlig was ons het niks oorgekom nie. As ons iets oorgekom het, sou hy dalk ook aan sy base moes verantwoording doen waarom hy ons so onvoorbereid uit die eenheid laat gaan het.

Naskrif

Voor die operasie ‘n aanvang geneem het, het die bevelvoerders besluit dis beter om die pantserkar troepe saam te groepeer in een Vegspan eerder as om 1 troep elk aan elke vegspan af te deel. Toe is ek terug saam met die nader pantser troepe na Vegspan 3 afgedeel. Het dit nie gebeur nie, sou ek waarskynlik saam met Vegspan 2 van Kapt. Louis Harmse op daardie berugte doelwit opgery het.

Kapt. (later Kol.) Jakes Jacobs het, na hy bedank het uit die weermag ‘n voertuig handelaar saak op Bloemfontein oopgemaak. Hy het sy lewe verloor nadat hy in ‘n dispuut met ‘n oud werknemer van hom met ‘n 9 mm pistool doodgeskiet is. 


Monday, July 11, 2022

Ons was daar, ons het die plek gevind, gemerk en het koordinate!!


In 2015 het Danie en ek gaan soek na die plek waar my pa gesterf het saam met die ander in ratel 12 Alpha. Ons was geneem na die verkeerde plek.. en ek het geweet dis die verkeerde plek die oomblik wat ek daar gekom het. Ons het daardie dag besluit om terug te gaan en weer te gaan soek.

Dis hoe hierdie begin het, daardie tyd  al. Ek het dit probeer ignoreer maar dit wou my nie los nie. En sonder dat ek aandag gegee het daaraan het die gedagtes net bly terug kom en later het ek besef ek gaan maar moet begin werk maak hiervan..want dit gaan nie weg gaan nie.  2022 is dit veertig jaar sedert hulle gesterf het en ek het besluit dis hoog tyd dat plek gekry en gemerk word op n kaart, want tot op 6 Julie 2022 was daar nog geen definitiewe plek of koordinate nie. Nie eers die huidige petrol prys gaan my kan stop nie.


Ek begin my voelers uit steek na my familie maar niemand behalwe Danie van der Westhuizen  stel belang nie. So dit sal dan ons twee wees wat die plek gaan soek waar Ratel 12A op 15 April 1982 uitgeskiet is aan die begin van ops Yahoo.


Ek begin met my voorbereiding

.. .daar moet 3 kruise gemaak word ( 1 vir Ratel 12 A se manne, 1 vir Jan Kaka se graf en 1 vir Koedoesvlei)... wat skryf ek daarop? Ek weet nie, maar die dag wat die skryf werk gedoen moet word, is die woorde daar.

 Daars n groot groep veterans oppad na Angola om n veterane slagveld toer diep in Angola te gaan doen, maar daar is n klein groepie van hierdie manne wat besluit hulle gaan vroeg uit Whk ry om ons in Tsumeb te kry.


Ons, ek en Danie ontmoet mense wat ons nog nooit gesien het nie om te gaan soek na n plek 60km noord van Tsintsabis, noord van die Bravo kaplyn, in die bos, waar, weet ons nie rerig nie. 

Hierdie  manne het meestal nie my ouers ontmoet nie, of, sommiges was vlugtig op Koedoesvlei so ver terug as 1979. Tog wil hulle deel wees van hierdie dag om 40 jaar later uiteindelik n plek op n kaart te kan merk waar ratel 12A uitgeskiet  is 15 April  1982. 

Ons het dit gedoen. Ek was daar. Daar waar alles geindig het.


Dit was nie maklik nie, die wag n bietjie en haak en steek het goed floreer in hierdie shona, maar met hierdie great manne aan my sy het ons ons kruis opgesit. En my hart het oorgeloop van dankbaarheid.


 VREDE!!!


Die klip.

Na ons klein seremonie begin ons terug veg deur die bosse om terug te draai. Ons almal is in verskillende grade van stukkend geskeur deur veral die wag n bietjie bosse. Die manne met kort broeke lyk besonder bloederig aan die bene. Tog kla niemand want ons weet wat ons vandag gedoen het sal nooit ongedaan gemaak kan word nie. 

Oppad terug na die bakkies kom stap Leon de Bruin langs my en gee vir my n klip.. sommer net seker n kalk klip, maar die woorde daarmee saam maak hierdie klip van ontsaglike waarde. "Riana ek het hierdie klip DAAR opgetel en wil dit vir jou gee sodat jy iets het om te onthou"



En weereens se ek dankie aan 
ons Vader vir die awesome mense wat hy oor my pad bring.

Daar is geen manier hoe ek die manne wat saam met ons gegaan het kan genoeg bedank nie...ek kan wel weer net hier se, DANKIE. Harry, Gerard, John, Brian, Leon en Danie.