Liewe Pappa,
Dis 32 jaar later, elke jaar word dit meer en tog voel dit steeds soos net gister.. en sommige dae voel dit weer soveel langer.
Ek het groot geword... (met moeite
sou Mamma seker se) en toe nooit getrou nie... Pa het mos altyd gese ek
gaan nie trou nie, ek gaan vir Pappa oppas as Pa die dag oud is. Ek het
vir n rukkie vir Mamma opgepas, so baklei baklei.. maar ons het mekaar
verstaan. Ek is haar dankbaar vir al die stories wat sy so lief was om
te vertel. Ek het soms net met n halwe oor geluister.. maar tog onthou
ek alles goed. Sy het Pappa so baie gemis, dit was soms moeilik om te
aanskou.
Intussen het ons famielietjie groter geword in die hemel,
eers Pa se kleinseun Neels, toe Mannetjie en laasjaar ousus Retha en
kort daarna Duppie. Nog net ek en Olivia oor hier.
Ek
onthou hoe ons dae lank in die veld gesit het by die houtkappers onder
die lorrie en Pappa vir my goed geleer het soos die fonetiese alfabet.
Ek ken hom steeds uit my kop uit... Alpa, bravo, charlie.. .... ! Net
soos ek Pa se kommando nommer nog steeds onthou... 74846544 KV.
Ek
onthou hoe ek net 2 ordentlike pakslae's by Pa gekry het, en elke keer
was daar oor ryp tamaties en diere betrokke. N oor ryp tamatie ontplof
dan so lekker op n bees of hond se boud! Ek is vandag nog lief vir
tamaties, my hele tuin is vol van die goed. Pa sou seker nie baie trots
op my gewees het nie, want ek is lui om hulle op te lei! Ek onthou hoe
ek die siektes van tamaties boekie uit my kop geken het nog voor ek kon
lees of skryf. Dis al wat ek gehad het om te lees in die ure en dae en
maande wat ons vier uur in die oggend opgestaan het om tamaties te pluk
en sorteer en was en pak... Pa het my alles geleer, met baie geduld.
Die
jare het aangestap, en Pappa, ek het vrede gemaak. Met die hulp van
wonderlike mense wat Pa en Ma na al hierdie jare nog nie vergeet het
nie. Vir soveel jare was ek in die donker en het ek gedink dis net ek
wat julle onthou, toe ontdek ek die internet, en daar gaan n nuwe wereld
vir my oop. Pappa en Mamma is die held en heldin van soveel wonderlike
mense, wat vir julle soveel respek het. Julle werk hier is nie vergete
nie, en sal nooit wees nie. Daarvoor sal ek sorg.
Pappa
en Mamma sou nou oud gewees het, en julle is nie hier dat ek vir julle
kan sorg nie, maar ek sal sorg dat julle nagedagtenis behoue bly, en dat
dit nooit vergeet sal word nie.
Ons sal julle nooit vergeet nie. We will never forget.
No comments:
Post a Comment