Monday, April 14, 2014

74846544

Liewe Pappa,
Dis 32 jaar later, elke jaar word dit meer en tog voel dit steeds soos net gister.. en sommige dae voel dit weer soveel langer.
Dit was vir my bitter swaar om Pa te verloor, want my hele wereld het dan om Pa gedraai. Ek was jou skaduwee en Pa mag niks gedoen het sonder my nie, wat ook seker soms n pyn in die agterwereld was, maar nooit het Pa my dit laat agter kom nie.
Ek en Mamma het mekaar leer ken na Pa se dood, skielik was dit net ons, en ons moes maar leer om in vrede saam te leef... die vrede weet ek nie so mooi van nie, want ons het lekker kop gestamp! Retha het altyd gespot en gese ons is soos n ou getroude paartjie, ma het altyd opgecheck op my. Ek het altyd gekla daaroor, maar as sy bel het ek maar huistoe gegaan. Pa weet mos hoe ons altyd kon stry as Pa nie by die huis was nie, ek dink die kere was min wat Pa weg was en huistoe gekom het en ons nie in mekaar se hare gevind het nie.Onthou Pa die baie kere wat sy met haar slipper geslaan het en dan het ek seep aangesmeer dat dit moet opswel, sommige kere het ek vergeet of dit seep of uie is, dan het ek sommer altwee aangesmeer. Daarna het ek gewoonlik weg geloop en vir Pappa gaan soek, sodat ek kon wys hoe sy my geslaan het. Tog ons het baie lief geword vir mekaar, al wou ons mekaar soms nog vermoor!

Ek het groot geword... (met moeite sou Mamma seker se) en toe nooit getrou nie... Pa het mos altyd gese ek gaan nie trou nie, ek gaan vir Pappa oppas as Pa die dag oud is. Ek het vir n rukkie vir Mamma opgepas, so baklei baklei.. maar ons het mekaar verstaan. Ek is haar dankbaar vir al die stories wat sy so lief was om te vertel. Ek het soms net met n halwe oor geluister.. maar tog onthou ek alles goed. Sy het Pappa so baie gemis, dit was soms moeilik om te aanskou.
Intussen het ons famielietjie groter geword in die hemel, eers Pa se kleinseun Neels, toe Mannetjie en laasjaar ousus Retha en kort daarna Duppie. Nog net ek en Olivia oor hier.
Ek onthou hoe ons dae lank in die veld gesit het by die houtkappers onder die lorrie en Pappa vir my goed geleer het soos die fonetiese alfabet. Ek ken hom steeds uit my kop uit... Alpa, bravo, charlie.. .... ! Net soos ek Pa se kommando nommer nog steeds onthou... 74846544 KV.
Ek onthou hoe ek net 2 ordentlike pakslae's by Pa gekry het, en elke keer was daar oor ryp tamaties en diere betrokke. N oor ryp tamatie ontplof dan so lekker op n bees of hond se boud! Ek is vandag nog lief vir tamaties, my hele tuin is vol van die goed. Pa sou seker nie baie trots op my gewees het nie, want ek is lui om hulle op te lei! Ek onthou hoe ek die siektes van tamaties boekie uit my kop geken het nog voor ek kon lees of skryf. Dis al wat ek gehad het om te lees in die ure en dae en maande wat ons vier uur in die oggend opgestaan het om tamaties te pluk en sorteer en was en pak... Pa het my alles geleer, met baie geduld.
Die jare het aangestap, en Pappa, ek het vrede gemaak. Met die hulp van wonderlike mense wat Pa en Ma na al hierdie jare nog nie vergeet het nie. Vir soveel jare was ek in die donker en het ek gedink dis net ek wat julle onthou, toe ontdek ek die internet, en daar gaan n nuwe wereld vir my oop. Pappa en Mamma is die held en heldin van soveel wonderlike mense, wat vir julle soveel respek het. Julle werk hier is nie vergete nie, en sal nooit wees nie. Daarvoor sal ek sorg.
Pappa en Mamma sou nou oud gewees het, en julle is nie hier dat ek vir julle kan sorg nie, maar ek sal sorg dat julle nagedagtenis behoue bly, en dat dit nooit vergeet sal word nie.
Ons sal julle nooit vergeet nie. We will never forget.