Wat ons van daardie tyd aan mekaar koppel het begin toe die eenheid opgedeel in twee en ons sou ‘n “opvoering/konsert” wat deur die “dankie tannies” gereel is op Tsumeb bywoon. Almal het mooi gesit en wag vir die tweede helfte van die vertoning om te begin toe die RSM Killer Smit ons uitjaag en beveel om buite aan te tree. Ons almal het gedink hy maak ‘n grap, maar kon sien aan sy tweede opdrag daar is moeilikheid. Dis hoe die operasie vir ons begin het. Ons is in groepe opgedeel en met ratels, kwe-voels op plase afgelaai, 3 of 4 op ‘n keer vir paasbeskerming. ander het eenheid toe gegaan. Op die plaas waar ons afglaai was het die boer net 2 koedoes geskiet, ons moes toe die aand help slag….
Daarvandaan is ek Tsinsebis toe waar my bev my nodig gehad het. Iemand anders is toe in my plek afgelaai.
Ek het nie jou swaer en pa geken nie, maar kan die Ratel wat deur Rpg’s uitgeskiet is en dae lank gebrand het met net twee oorlewendes, die boesman wat voor by die drywer gesit het en die een wat op die spaarwiel agter op die ratel gesit het en landmyn insedente baie goed onthou aangesien ek die dag in Tsinsabis was. Hulle het die kaplyne vir spore gaan vee en ek het die ratel sien wegry uit die basis. Die skok en ongeloof daarvan, die operasie en intensiewe soektog na die sowat 80 Swapo's, die kontakte wat Koevoet en ons magte hulle splintergroepe toegedien het, die Tsumeb vliegveld wat as tydelikke basis ingerig is. Die ratels met groot luidsprekers wat gevangenes se boodskappe uitgebulder het en 120mm mortiere wat die hele nag lank verligting mortiere geskied het om hulle uit te put en aan die beweeg te hou. Die Dakotas wat thunderflashes op lae hoogte uitgegooi het om spore wat net weggeraak het op te spoor. Die allohette gunships wat boom hoogte gevlieg het. Pumas wat vooraad soos ammo,diesel, ratpacks en water ingevlieg het.
Jou verlies was, soos dit deel was van jou, was dit deel van ons almal wat daar was, ons het dit almal aan ons gevoel, maar het dit destyds weggepraat deur weg te kruip agter die frase, “dit was nog nie my beurt nie”
Behalwe die operasies Angola toe kan ek die in die driehoek van die dood goed onthou, paasbeskerming gedoen en in daardie donker Suidwes nag allen waggestaan op die plase, die wonder of jy ooit weer jou familie gaan sien. Dit laat diep merke wat nie uitgevee kan word nie, woede wat nie gemeet kan word nie, wraak wat nie tot uiting kom nie, maar dit verstaan jy beter as ek.
Ook die sihestas van 11 tot 2 in die somer. Die donderweer en reen in die laat middag om alles af te koel. Die vuurwarm stort wat met donkies warm gemaak is. Die eetplek(daardie lekker Suid Wes steaks en koue Windhoek biere en fliek, sokker / rugby veld aan die noorde kant, hek aan die suidekant, wagtorings wat ons self gesweis het en opgerig het……..snaaks hoe jy die swaar dele uitwis en die lekker dinge onthou…
Baie jare nadat ek van Grootfontein terug gevlieg het republiek toe, het ek en my familie in die mooie Namibia gaan vakansie hou. Ons het in Windhoek die museum besoek en vir enigiemand wat daar was en my ervaring op die grens deel sal ek dit nie aanraai nie. Swapo stal dit daar uit asof hulle die oorlog teen ons gewen het. Die woede kan ek nie hier beskryf nie, net dat my vrou 'n week later, toe ons in Etosha vakansie gehou het, skaars 70km van die 61Meg Basis, vir my gese het sy ken nie die mens wat ek op daardie tydstip was nie. Al die emosies, beelde van die oorlog, en die belediging van 'n museum in Windhoek wat se ons het die oorlog verloor.....
Ek kon myself nie sover kry om die basis te gaan besoek nie, ek dink nie ek wou die verval van die eens trotse en effektiewe veggroep ervaar nie.
Een ding sal altyd by my bly en dis ons leier van daardie tyd, Col. De Vries - beste man om voor te loop in 'n oorlog, vra my ek weet. Generaal De Vries is ‘n legende in my oe.
Ek het die vooreg gehad om ‘n paar jaar na die tyd met Visi Admiraal Dries Putter(In my tyd Hoof van die Vloot) te gesels en vrae oor strategie tydens operasies waarby ons betrokke was te vra, oor dinge wat destyds nie sin gemaak het nie. Hy het my 61Meg bevelvoerder persoonlik geken en hom gereken as een van die heel bestes en dit het my met nog meer trtots laat swel diep hierbinne my.
Ek moet net die volgende ook noem van daardie tyd, 61Meg se Infanterie, Pantser en Artillerie , Tiffies, Shefs en Admin se mense en amal wat aan ons kant was, soos jou pa en ma hulle die boere van die driehoek van die dood, was en is van die beste wat daar was en het diep spore in my hart getrap en dit sal vir altyd spesiaal vir my bly.
Een ding is seker, ons het “Generaal De La Rey’s” in eie tyd gehad en ervaar, almal wat daar was en help seker maak die meeste van ons kom terug en vir die wat dit nie gemaak het nie sal ek vir ewig dankbaar wees dat ek en my makkers wel hier is om die storie te vertel en helde soos jou pa en swaer te eer vir hulle opoffering. Lank lewe hulle legende! ! !
Dit bring my terug by die hede: Ek het die voorreg gehad om saam met my seun van 14jaar verlede Sondag na die Ysterplaat lugskou te neem en vir die eerste keer kon ek hom in ‘n ratel laat inklim(drywers sitplek, Bevelvoerder sitplek, Gunner sitplek) en presies verduidelik waarvoor al die 1000 knoppies was, snaaks hoe vinnig als weer terugkom al is 30jaar al weer verby. Vir die omanne, net die wapentuig het verander, die res is nog dieselfde, behalwe die nuwe ratels sal flikkerligte, sirens en spiels stukkend ry die eerste keer as hulle moet visgraad of bundu bach…….
Ek kon hom ook die lidtekens op my vingers wys waar die 61 Meg ratel se drywers hatch wat teen die 20mm kanon geleun het en toe, toe geval het toe ek die turret draai om in te klim om die radio’s aan te skakel een oggend in Angola en dit alles oor opofferings wat mense soos jou pa en swaer en ander helde selfs die wat nie gesneuwel het nie vir ons gemaak het.
Riana, dankie vir jou en jou familie en die opoffering wat julle moes maak ek en die ander troepe wat daar was waardeer dit elke dag.
Aan al my 61 Meg makkers wil ek net se, manne dit was 'n voorreg, dankie.
Jacques Nel
Sersant
Kaapveld Artillerie
14 Veld Regement