Ek het gisterand met my swaer gesels, dis nou Izak Visser. Baie van julle sal hom onthou, hy was altyd saam met met pa en Hendrik. Hy het nie baie van skoene gehou nie, en was altyd kaalvoet. Hulle (hy en my suster Olivia) het my blog gelees.
Hy was ook die dag saam met Hendrik en my pa toe hulle die noodlottige skermutseling gehad het. Gelukkig vir ons was hy in die ander groep en nie in die ratel waarin Hendrik en pa was nie.
Hulle onthou baie beter as ek en hy het gese hy sal ook graag n bydrae wil lewer tot die blog, waarvoor ek ek baie dankbaar is.
Hubie, jy sal hom seker onthou, hy dra 'n baard en brille.
Hy se baie van dit wat hy gelees het is honderd persent korrek, en het veral gepraat van jou brief Hubie.
Die blog is nou n bietie stil en ek sal maar weer begin gesels met julle tot ek weer bydraes kry van mense.
Ek wil ook weer van die geleentheid gebruik maak om vir julle almal baie dankie te se vir dit wat ek reeds van julle gekry het, en vir die mense wat graag wil bydra vra om my assbelief te kontak by my adres: rvdwesthuizenatgmail.com (vervang die at met 'n @).
Vriendelike groete
Riana van der Westhuizen
Sunday, June 24, 2007
Friday, June 15, 2007
Nostalgiese brief van Ferdi
Hi Riana
Oom Daan en Tannie Pompie was so deel van 61 Meg soos almal van ons. En die van ons wat in daardie tyd deel van die bataljon was, onthou hulle met agting en respek.
Ek het heel per ongeluk op jou blog afgekom, en dit het 'n vloed van herinneringe wakker gemaak -- dinge wat ek eintlik al wou vergeet, of hard probeer het om te vergeet. Maar 'n mens kan nie, dis deel van jou... vir altyd.
Ek was saam met Hubrecht van Dalsen (het gesien hy was al in kontak met jou) en Ariel Hugo (ek het sy bydrae ook gelees) van November 1980 tot Oktober 1981 by 61 Meg. Hubrecht was saam met my (en Etienne Gilbert) die peletonbevelvoerders van Charlie kompanie en ons het onder meer aan Ops Protea deelgeneem.
Daarna het ek nog twee "kampe" saam met 61 gedoen -- einde 1982 (met Ops Meebos), en einde 1983 tot Februarie 1984 (Ops Askari).
Een van my heel eerste operasionele take (dit was in Desember 1980, as ek reg onthou) was om die kaplyne rondom Tsintsabis te patrolleer, en op pad daarheen is ons getaak om by julle plaas aan te doen (ek dink dit was om 'n spoorsnyer op te tel en voorrade af te laai).
Dit was laatmiddag en ek onthou nog die groot heinings en die antennas en 'n jong meisie onder die bome speel (waarskynlik jy). Ek onthou ook ek het baie respek gehad vir hierdie mense wat te midde van die gevaar steeds op die plaas gebly het.
Ook onthou ek hoe verbaas ek aanvanklik was om 'n vrou op die army radionetwerk te hoor, maar later het ek menige boodskappe deur Tannie Pompie laat herlei terwyl ons met kaplyn patrollie besig was.
Snaaks genoeg, ek het jou pa 'n paar keer vlugtig op Omuthiya gesien, maar nooit werklik ontmoet nie. Daaroor is ek nou nog jammer, want ek het eers einde 1982 met my eerste kamp verneem wat met hom (en die res van die Ratel bemanning) op daardie dag in April gebeur het.
Terloops, soos ek dit het, was die boer met die vliegtuig 'n Duitser (kan ook nie sy naam onthou nie) wat vir hom twee AK's onder die vlerke van sy Piper Cherokee laat aanbring het, en 'n gat onder die stuurkajuit gemaak het sodat hy handgranate daardeur kan gooi.
Ek wil jou geluk wens met jou blog. Dis 'n wonderlike manier om nagedagtenis aan twee wonderlike mense lewendig te hou, asook om herinneringe te kan deel oor 'n tydperk in ons lewens wat verreikende gevolge vir ons almal gehad het.
Sterkte
Ferdi de Vos
* Hier is n foto van die vliegtuig, Ferdie Pieterse was so oulik om dit vir my te stuur.
n Brief van Roland de Vries - Bevelvoerder van 61 Mech in '82
Beste Riana,
Baie dankie vir jou E-pos. Dit was 'n groot en lekker verrassing. Dit het beelde wat nog baie duidelik in my kop is weer na vore gebring: 'n Baie oulike klein dogtertjie; jou ma voor die radios in die kombuis op Koedoesvlei ; jou ma in die dam (rok en al); jou pa en sy span besig op 'n Ratel....
Ek kan begryp hoe jy oor jou pa voel. Die oorlog het nie een van ons onaangeraak gelaat nie. Hy was 'n wonderlike, entoesiastiese en lojale persoon. 'n Man wat leierskap en toewyding in die ware sin van die woord verstaan en uitgeleef het. Hy was 'n held by wie ek baie geleer het. Iemand wat die lewe vir my baie makliker gemaak het daar bo, iemand wat jy ten alle tye kon vertrou. Ek kan nog presies onthou waar ek gesit het en hoe ek gevoel het toe ek sy sitaat vir die Honores Crux geskryf het.
Jou ma was 'self n vrou wat vele lewens gered het deur op kritiese oomblikke in die geveg, diep in Angola, deur te gee, as sy agterkom ons sukkel met komms. Sy het ook altyd geweet presies waar almal is en het ons dikwels aanmekaar gehou met haar radios.
Stuur asseblief groete aan almal. Ons moet beslis kontak hou, veral met 61 Meg se reunie, die boek wat ons wil skryf en die assosiasie wat ons wil stig. Ek het vir Ariel gevra om met jou te praat oor die moontlikheid om Augustus by ons in Caledon aan te sluit vir die beplanning.
As 'n nagedagte, jammer dat ek nou eers jou e-pos antwoord maar was uitstedig met 'n projek. Ek sal beslis sommer nou na die web blad kyk.
Meg groete - vertrou ons sal mekaar spoedig weer sien.
Liefde
Roland

Subscribe to:
Posts (Atom)